Leerlinge van die Hoërskool Hindle in Delft het met ’n nuwe projek die wiel aan die rol gesit om ’n  positiewe verandering in gemeenskappe mee te bring.

 
Aan boord die BlouBus-bedieningsprojek, wat verlede week van stapel gestuur is, is die leerlinge sterk op pad om hul opvoedingservaring te verryk. Dr. Izanette van Schalkwyk, wat die projek bestuur, sê dit is ’n voorreg om onder die vaandel van die Zoë-kerk in Delft te kan werk. Haar mening is dat Suid-Afrikaanse jeugdiges toegerus moet word met vaardighede om positiewe verandering in die samelewing mee te bring en só in hul eie lewe ook te gedy.
 
“Die BlouBus-bediening bemagtig die jonges in die Delft-gemeenskap om moeilike leef-uitdagings te oorkom, en om hul lewe en toekoms deur Christelike waardes te bou,” sê sy. “Ons gebruik die BlouBus-naam as die uitbeelding van die liefdevolle teenwoordigheid van Jesus Christus in die Delft-omgewing. “Teen die einde van 2010 het dit duidelik geblyk dat die BlouBus-betrokkenheid veel meer behels as bloot die geestelike teenwoordigheid van God se passievolle liefde vir jonges. Die betrokkenheid van die kinders by die alledaagse doen en late van die projek, het ook neerslag gevind in die Delft-kinders se leefdoelwitte.
 
“Die bykans onmoontlike het ook gebeur en die hemelse Vader het ’n werklike blou bus voorsien wat Vrydag 13 Mei by die Hoërskool Hindle in Delft aangekom het. Verlede week het pastoor Charles George van die Zoë-kerkgenootskap, ’n kort seremonie waargeneem waartydens die bus gesalf is as die sigbare teken van God se kragtige teenwoordigheid in Delft.” Hoërskool Hindle, soos die ander skole in die Delft-gemeenskap, moet verskeie probleme oorkom, soos byvoorbeeld die verskrikking van armoede, bendes en disfunksionele gesinne. Die BlouBus-bediening behels die doelgerigte beskerming en uitbouing van die leerlinge se algehele welstand.
 
Van Schalkwyk het gesê hierdie werk omvat verskeie programme wat uit twee komponente
bestaan. “Eerstens, die ontwikkeling van jonges se positiewe funksionering, soos hoër vlakke van lewenskragtigheid, en tweedens, die hantering van risiko-gedrag soos tienerswangerskappe en middel-misbruik. “Hierdie programme, soos die aanbieding van Afrikaanse en Engelse leeskamers, musiekonderrig, terapeutiese drama-klasse en die “Prinsesklub”, word aangebied deur medewerkers soos dr. Sandra Marais, Marli Botes, Helena Conradie (stemkunstenaar) en Annamarie Stofberg (musiek-opvoeder). Ons leerlinge word bedien met broodnodige kundigheid, asook voedsame toebroodjies,” sê sy.
 
Die spesifieke BlouBus-aktiwiteite vir die jonges geskied hoofsaaklik op Vrydagmiddae ná skool en Saterdag-oggende. Hierdie gewilde geleenthede word getrou deur die leerlinge van die Hoërskool Hindle bygewoon onder die begeesterde leiding van Donlee Faro, ’n graad 10-leerling. Naas die opwindende samesang en besoeke van ander gelowiges, is die kern van die BlouBus-geleenthede die opregte omgee en bemoedigende saambid vir mekaar.
 
“Die bus sal ingerig word sodat ons jonges die geleentheid het om binne ’n veilige ruimte mekaar te ondersteun en stil te word in die sagte teenwoordigheid van Jesus. “Die uiteindelike doelwit van die BlouBus-bediening is dat die vrolik-geverfde bus as ’n sigbare teken sal dien vir die werklikheid van die hemelse Vader se liefdeskrag vir alle jonges.
 
“Natuurlik behels ons reisplan ook om die ganse Delft-omgewing te deurkruis, die skole te besoek en alle
jonges te nooi om die weelde te beleef van die bus se uiteindelike bestemming, naamlik die ewige tuiste by Jesus Christus.”
 
Meer inligting oor die projek kan by 072 367 7739 of izanette@telkomsa.net gekry word.